Salomi Joerdens – Kgalagadi Transfortier Park, Mei 2014

Kgalagadi

Ek was bevoorreg om hierdie jaar weer my siel te kon vind tussen die rooi sandduine van die Kalahari.  Hierdie plek steel my hart elke keer as ek teruggaan.  Ek is doodeenvoudig net verlief…
 
Donderdag 15 Mei slaap ons oor by hartsvriende in Vredendal en begin en eindig sommer die kuier met lekker lag.
 
Die volgende oggend en so in die koue val ons in die pad vir ons eerste bestemming.   ‘n Lodge so 5 km buite die Kgalagadi Nasionale Park, waar ons oornag.  Die Lodge was ‘n groot verrassing – taamlik nuut en almal daar baie vriendelik en behulpsaam.  Hieronder ‘n paar foto’s van my nuwe gunsteling plekkie!
Kgalagadi  Kgalagadi  Kgalagadi

Dit is toegerus met kamp staanplekke elkeen met sy eie badkamer.  Daar is ook klein selfsorg-eenhede wat toegerus is met ‘n badkamer, klein kombuisie en TV met DSTV.  Daar is ‘n klein “Deli” wat elke dag sorg vir vars produkte asook ‘n restaurant.   Die sonsondergang en opkoms was buitengewoon mooi  – ‘n regte klein juweel in die Kalahari…

 

Saterdagoggend kon ons eenvoudig net nie meer wag om in die Park te kom nie.   Vroeg-vroeg was ons aan die gang en reg om die kort pad na die park aan te durf – daar waar die rooi duine en son bymekaar kom.  Met geen selfoonopvangs in die Park behalwe in Twee Revieren nie, gee dit hierdie rustigheid en vreedsame atmosfeer.  Al wat jy sien is troppe gemsbokke, springbokke, blouwildebeeste en vele meer.  Jy hoor slegs die sonbesies en dieregeluide met hier en daar mense wat praat oor die dag se gebeure en wat daar te siene was.  Die Park bied ook ‘n verskeidenheid van kampstaanplekke tot huisies en ‘lodges’ vir almal se smaak en begroting.

 

Sommer met die intrapslag was ons baie gelukkig om hierdie sekretarisvoël te sien, besig met sy vangs van die dag – het die slang een-twee-drie weggesluk en aanhou skoffel in die lang gras. Kgalagadi

Ons het meer aan die Botswana kant gebly waar die populêre boskamp staanplekke met baie min toegerus jou baie na aan die natuur bring.  Die kampe is nie omhein nie, so die diere loop deur jou kampplek en jy moet maar altyd op jou hoede wees.
 
Ons het in verskillende kampe gebly en wonderlike ervarings gehad.  Ons sien die interessantste verskeidenheid van voëls van klein tot groot en hope diere.  Vir die eerste vyf aande oornag ons by kamp staanplekke en deel wonderlike oomblikke saam met goeie vriende.

Kgalagadi

Die eerste staanplek was net toegerus met A-raam strukture, bome, `n “long drop” en plek vir `n buitestort sak.  Ons dae loop min of meer dieselfde – vroegoggend voor sonopkoms opstaan en  koffiebottels regkry – dan uitry vir so 3 ure – alles sien wat daar te siene is.  Terug by die kamp – lekker rus en gesellig verkeer tot so 3 uur die middag vir nog `n rit om te sien wat die Kalahari alles vir ons wil wys…
Kgalagadi  Kgalagadi  Kgalagadi
Tydens my besoek het ek ook die kans gekry om na die nuwe Lodge te gaan kyk wat nou onlangs oopgemaak het in die Park in die Botswana kamp.  Hulle bied beide Bed en Ontbyt asook ‘n alles insluitende opsie aan. Indien gaste nie self tot by die Lodge wil ry nie, sal hulle die gaste gaan haal  by Twee Rivieren.  Hierdie is ‘n 4 ster Lodge, nie omhein nie en baie goed uitgelê.
Kgalagadi  Kgalagadi
‘n Hele dag se ry na ons volgende kamp!  Met kosmandjies gepak was almal vroegoggend gereed vir die pad.  Na baie piekniekstoppe, foto geleenthede en so baie om te sien, het ons eindelik by ons tweede kampplek aangekom.
 
Hierdie een was meer primitief as die eerste een – daar was letterlik niks! Daar was bome waaronder ons kon kamp opslaan en een kraan vir water – nie drink water sou ek sê – net vir skottelgoed was en stortgebruik. WAT `N VOORREG om so na aan die natuur tyd te kon spandeer.  Ons kon drie aande hier spandeer – beslis ‘n goeie bestemming vir voëlkykers alhoewel ons steeds so gelukkig was om in hierdie deel van die park leeus te sien.
 
Ons ontmoet nuwe hartsvriende – twee goeie mense wat ook net bietjie kos vir hulle siel kom soek het en op ‘n stadium gereken het hulle is die enigste mense in die gebied.  Ons het so lekker gekuier en stories gedeel dat dit toe ontaard in ‘n feesmaal met gedekte tafels en kerse in die bos!  Wat ‘n fantastiese aand!
 
Die volgende dag groet ons vir ons reis verder.  Ons leer ook baie by hulle – ʼn nuwe pad wat ons maklik 3 ure se ry gespaar het op ons pad terug huistoe!  Hulle het so interessant vir ons gemaak – gevoel soos op ‘n SOS kamp.  Pad was gemerk met paaltjies en sjokolade begrawe op plekke… Baie dankie Phillip & Gail.
Kgalagadi  Kgalagadi  Kgalagadi
Met die vakansie toe amper op ‘n einde, vertrek ons vroegoggend na ons laaste kampplek.  Ons bly in ‘n huisie vir hierdie oornag stop.  Die huisies is baie basies maar het alles wat jy nodig het. Ons sien vir oulaas nog ‘n paar interessante diere en geniet ‘n laaste paar foto oomblikke.
Kgalagadi  Kgalagadi
 
Na 10 dae in die Park – weer terug huistoe.  10 Fantasties dae en ek gaan sommer môre weer terug as ek kan.  Woorde kan nie altyd beskryf hoe mooi dit is en wat die bos aan jou siel doen nie – stel voor almal gaan kyk wat die Kalahari alles het om te bied!
 
Om die lang pad bietjie te breek maak ons nog een laaste stop – ‘n gastehuis in Calvinia.  Hulle het ‘n restaurant op die perseel wat sorg vir heerlike tuisgemaakte kos.  Die kamers is intiem en het alles wat jy nodig het. TV met DSTV, lugverkoeling ens.
Kgalagadi
So sluit ons ‘n wonderlike vakansie af met die nagedagtenis van skoon bosveldlug,  die geluide van knetterende vuur en diere in die agtergrond.  Wat ‘n belewenis – ek is reg om dit sommer môre weer alles oor te doen!